Franse kookkuns

'n Illustrasie uit die 14de eeuse Viandier de Taillevent, een van die oudste Europese kookboeke

Die Franse kookkuns word as een van die mees gesofistikeerde en elegante kulinêre tradisies ter wêreld beskou. Net soos die Chinese en Indiese kookkuns word ook die Franse s'n deur 'n groot streeksdiversiteit gekenmerk.

Die Franse kookkuns steun op 'n lang tradisie van familiêre gewoontes - met 'n verskeidenheid streeksvariasies - en die "Grande Cuisine" of "Haute Cuisine", die verfynde hoofse kookkuns wat deur die Franse adel deur die eeue heen vervolmaak is.

Baie van die mees befaamde sjefs ter wêreld was meesters van die Franse kookkuns, waaronder Taillevent (Guillaume Tirel), François-Pierre de la Varenne, Marie-Antoine Carême, Auguste Escoffier of Paul Bocuse. Die Franse kookkuns en Franse kooktegnieke het daarnaas ook 'n groot invloed op feitlik alle Westerse kulinêre tradisies uitgeoefen.

Ten spyte van kits- en diepbevrore kos bly vars kos en 'n smaaklike maaltyd 'n kenmerk van die nasionale identiteit van Frankryk, en die Franse bestee 'n groter deel van hul inkomste aan kos as mense in ander Europese lande. Klein kruidenierswinkels en varsproduktemarkte, wat hulle op varsprodukte toespits, bied die geleentheid om op Sondae inkopies te doen vir 'n ete wat deur die hele gesin geniet word, terwyl ander voorraadprodukte enkele kere per maand in die hiper- en supermarkte gekoop word.

Voedsel van 'n hoë gehalte is die geheim van die Franse kookkuns. Landbouprodukte wat aan spesifieke vereistes voldoen, mag 'n rooi etiket (die Label Rouge) dra; 'n soort amptelike erkenning van hoë gehalte. Dwarsoor Frankryk is daar 'n verskeidenheid plaaslike produkte wat die Appellation d'Origine Contrôlée (AOC)-etiket dra - 'n waarborg dat die produkte in 'n spesifieke gebied en volgens die tradisionele metodes vervaardig word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search